Prov 27:9 ~ Just as lotions and fragrance gives sensual delight, a sweet friendship refreshes the soul....(Message Translation)
Ek dink die afgelope tyd aan die verskillende vriendinne en vriende in my lewe. Ek dink aan hoe elkeen ‘n ryk, vol rol in my lewe speel, maar elkeen op ‘n verskillende wyse.
Elke vriendskap bring ‘n ander dimensie, diepte en faset in my lewe. Hoe saai en vervelig sou my verhoudings wees as elke kosbare persoon in my lewe dieselfde was. Soos die teksvers sê – “lotions and fragrance”, so gee elke vriendskap ‘n verskillende geur in my lewe af.
By sommiges ruik ek die mirre, en hul deel hul pyn met my. Ek moet dan van my mirre-olie gebruik om te troos en te bemoedig, want ons elkeen ervaar pyn in verskillende vorme, daarom is mirre olie volop in almal se lewens.
Sommige vriendinne ruik soos die hisop. Hul harte is in die seisoen van reiniging en herstel. Elke dag nederig om saam met Dawid te bid “Reining my met die hisop, dat ek rein kan wees”(Psm 51:7). Ek bid saam sodat my hart ook elke dag skoon gemaak kan word in die teenwoordigheid van my Jesus.
Dan het ek my vriendinne wat soos granate ruik – hulle lewens is vrugbaar en hul moedig almal om hul aan om deur te breek in nuwe dimensies! Hulle bring liefde, vrugbaarheid en volheid in jou lewe in. Hulle is deursigtig en steek niks weg nie. Hulle koester die tye agter die sluier, in die binnekamer, die troonkamer van God, sodat hul bevrug kan word met Sy Woord, Sy liefde en Sy planne. (Songs 4:3 – Your cheeks are like halves of a pomegranates behind your veil)
My volwasse alwyn vriende en vriendinne, wat ‘n langer pad stap as wat my lewensdae oor het. Hulle ken elke seisoen omdat hulle dit nie net aanskou het nie, maar omdat hulle self deur elke seisoen gegaan het. Die merke van hul volwassenheid wys op hul harte, net soos die insnydings op die alwyn wat 'n kosbare bestanddeel vir olie gee. Hulle is wys en hulle gee wyse raad wanneer ekself deur ‘n seisoen van droogte, dorheid en gebrokenheid gaan. Ons MOET by hul voete sit, hulle het gelouterde goudklonte om uit te deel.
Ek dink aan my vriendin wat soos kassie ruik...altyd nederig, nooit opgeblase en altyd gereed om te “let go and let God”. Sy pas nederig aan by haar omstandighede en vertrou dat hierdie “stropings-proses” in haar lewe deel van God se plan vir haar lewe is. Sy erken dat nederigheid ‘n bestanddeel van die vreugde-olie is en vind haar vreugde in God, al staan sy vernederd weens haar omstandighede. (Psm 45:8)
Dan is daar die vriende wat soos heuning ruik. Hulle monde spreek openbaring, net soos die vriendin wat soos appels ruik is hul woorde keurig, lewe-gewend en vars.
Ek dink aan my seder vriende, sterk, wys en regverdig. Hulle het al sterk geword toe die noordewind hard teen hul geslaan het. Hul krag en geloof stig my om ook sterk te word wanneer die noordewind teen my kom waai. (Hooglied 4:16) Ek gaan wyser en sterker van hulle af weg omdat hulle my weer daaraan herinner het dat elke seisoen deel is van my geestelike groei .(Jak 1:1-8).
My nardus-vriendin, wat met haar hart aanbid..... In haar hart is daar ‘n liefde wat sy vir Jesus het, wat haar dryf om haarself en haar reputasie te verloor ten koste van Hom . Sy sal haar kosbaarste “albaste-fles” breek en daarsonder klaarkom, solank sy net by die voete van haar Here kan wees. Ek is so lief vir haar omdat sy eerstens die voete van Jesus gaan soen het, voordat sy my seer beter kom soen het. (Luk 7:37 – 38)
Dan is daar my vriendin wat soos die Roos van Saron ruik. Sy stap ‘n woestynpad, maar het net die dou van die Woord en die Wind van die Heilige Gees nodig om haar te laat beweeg, haar te laat dans selfs in die dor toestande wat die woestyn bied. Sy is die een wat, in haar seer en gebrokenheid, in haar ongemak, in haar donker middernag uur, nogsteeds kies om te dans, te dans vir haar God, sodat sy ‘n blom kan wees wat ‘n aangename reuk bied vir ander wat ook deur die woestyn stap. (Jes 35:1)
Ook my vriende en vriendinne wat soos Olyfolie ruik – hulle bind almal saam en hulle is lief vir eenheid onder die broeders. Hulle geniet die uniekheid van elkeen se roeping, gawes en bediening. Hulle weet dat ons elkeen nie alleen kan funksioneer nie, maar as 'n liggaam deel is van 'n groter roeping. (Psm 133).
Laastens dink ek aan my beste vriend, die Een wat almal oortref – Jesus! Hy ruik so heerlik! Daar is nie ‘n aangenamer reuk nie! Net Jesus kan jou lewe ‘n aagename geur gee. Hy moet Sy olie, Sy parfuum oor jou kom uitgiet, sodat jy soos Hy kan ruik. Ons moet Jesus deel maak van alles wat ons doen, wat ons sê en wat ons IS, slegs dan kan ons werklik lekker ruik. Hy ruik soos al die genoemde olies en nog meer. By Hom kan ons elke olie ontvang wat ons nodig het. Sy salf in ons met Sy parfuum, sodat ons in elke seisoen meer en meer soos Hy kan ruik. Song of Songs 1:3 ~ The odor of your ointments is fragrant, your Name is like perfume poured out.
Vra Hom vandag om jou te kom salf met Sy olies, Sy salwing, Sy geur wat Sy naam is. Gal 3:27 gee ons die opdrag om ons te beklee met Christus. Gal 3:27......put on Christ. Net soos om daagliks ‘n parfuumpie of ‘n “aftershavetjie” aan sit, so moet ons daagliks die geur van Jesus aan ons self smeer. Elke keer wat ons parfuum aan ons spuit of smeer, moet ons onsself daaraan herinner dat ons ook die geur van Jesus aan ons self moet afsmeer of spuit. Ons kan nog sonder ons gewone parfuum, maar ons kan nie en mag nie ons voete by die huis uitsit, as ons nie eers vir Jesus gevra het om die verskillende fasette en geure wat in Sy naam is, aan ons af te smeer nie.
God die Vader is die Salwer, Jesus is die Gesalfde en die Heilige Gees is die kosbare Salf. Jy het alles wat jy nodig het om ‘n aangename reuk te wees in ‘n wêreld van onaangenaamheid.

Jessica vd Walt
Power of Love Ministries